Ek het my ouma en oupa leer ken toe hulle twee in Gordonsbaai by die see gebly het. My oupa is in 2016 oorlede en ek het daarna hierdie gedig vir my ouma geskryf.
||
Dans in die ewigheid
Soos altyd sit ek alleen by die see
En hoor ek die branders oor die rotse vee
Sien ek die lang uitgestrekte strand
Ruik ek die blou oseaan, die spierwit sand
Dis hier waar ons, sy aan sy
Saam ons lewe begin het, ek en jy
Om ons lewensverhaal te bou
en ons pad saam te loop, kom wat wou
Want soos voor die kansel belowe,
Deur hartseer en deur blye tye
En tot die dood ons skei, onthou?
Kon ons ‘n huwelik saam begin bou
Ons kon saam die opdraende loop,
Ons kinders kry, ‘n familie groot
Elke sonsopkoms saam beleef
Saam ons drome uitgeleef
Tot die dood ons skei
Ons het ons belofte behou
Na 50 jare as jou vrou
En miljoene herhinneringe om te onthou
Het ek besef dat die lewe maar kort is,
‘n oomblik
verby
in ‘n oogwink
Die grootste hiervan is die liefde
Want jy sien,
Ek het die huisie by die see,
En alles wat die aardse wêreld vir my kon gee
Maar nou is jy weg en die huisie is leeg
Al die geld en goed kan my hart nie stil
Ek soek na iets om die verlange te dra
Vir krag van Bo, soos in gebed gevra
Dis Hy wat lewe gee, en weer mag neem
Die een wat Hy kies en met Hom saamneem
En sing ek steeds elke Sondag in die kerk ‘n lied:
‘Here, laat U wil geskied’.
Soos altyd sit ek alleen by die see
En hoor ek die branders oor die rotse vee
Sien ek die lang uitgestrekte strand
Ruik ek die blou oseaan, die spierwit sand
Met elke asem, blaas ek een vir jou As ek weet wat liefde is, is dit oor jou
U het ons geseën, o Liewer Heer
Mag ons albei dans in die ewigheid weer
Leave a Reply