Eendag

Ek het in my derde jaar van universiteit hierdie blog geskryf op ‘n rustige aand in my koshuiskamer. Ek is dankbaar vir die voorreg om te droom en die voorreg om ‘n God van wonderwerke te dien.

|| 2015

Iemand het eendag gesê: Doen vandag dit wat jy eendag op jou sterfbed gaan wens jy HET gedoen.

Ek is maar 22 jaar, ’n jong student, en tog is dit genoeg om ’n deeltjie van die wêreld te kon beleef, te kon leer. Jy leer dat jy die 4 jaar skool meer oor die lewe leer as die eerste agtien jaar van jou lewe. Dat jy eintlik so min weet, so min gereed is vir alles wat voorlê, so klein is vir hierdie groot, besige wêreld. Jy leer dat jy op jou eie is, jou eie besluite moet maak, jou kop moet hoog hou en jou ken moet lig, te midde van ’n wêreld wat jou ideale wil toegooi. Jy leer dat ’n graad dalk gaan beteken dat jy eendag ‘n werk gaan hê, maar nie dat dit vir jou geluk gaan waarborg as jy in die aande by jou huis instap nie. Daardie geluk kan geen graad waarborg nie, jy vind dit net in by geliefdes, by God. Jy leer dat jy nóú vir dit moet bou, vir jou toekoms. Niemand anders gaan dit vir jou doen nie. Jy leer dat dit niemand anders se werk is om te glo jy is goed genoeg nie. Dit is jóú werk, oefen elke dag om dit te glo, want jy moet nog ’n leeftyd daarmee saamleef. Jy leer hoe vinnig drome in jou kop kan verdwyn, terwyl dit nog nog vlamme aan die brand steek in jou hart. En hoe almal maar net veg vir aanvaarding, hulle eie plekkie in die son. Dat die wat koud en kwaad is vir die wêreld, ’n stukkie warmte soek, iemand wat hul seer sal verstaan. En jy leer dat tyd regtig verby vlieg. Dat tyd regtig vir niemand wag  nie. En as jy ’n oomblik te lank gaan uitstel en wag, kan jy dalk net die lewe heeltemal mis.

Iemand het eendag gesê: Doen vandag dit wat jy eendag op jou sterfbed gaan wens jy HET gedoen. Dit het my lank laat dink. En vandag, 4 jaar later, skryf ek daaroor. Want daardie dag gaan kom. Die dag wat ek gaan terugkyk op my lewe, op my lewenspad, en gaan besin oor alles. Het ek my bestemde pad gestap? In vrede en in liefde? Het ek my drome nagejaag, waar gemaak, bereik? Het ek alles gedoen wat ek in hierdie kort tydperk op aarde vir myself belowe het ek gaan doen? Want daar is SO baie dinge wat ek graag sal wil doen voor daardie dag aanbreek. Ek sal heel eerste so graag eendag ’n busdrywer wil ontmoet. Die een wat my ma en pa gehelp het op ’n stil koue, verlate nag, langs die pad oppad na die Kalahari waar die kar gerol, en hulle op hulp gewag het. Ek sal vir hom wil dankie sê. Ek wil die vriendelike tannie in Somerset ontmoet en dankie sê dat sy my 3-jarige sussie opgetel en na haar ouers gebring het nadat sy op ’n besige somersdag in die “mall” weggeraak en ons twee ure na haar gesoek het. Ek sal na my graad een- juffrou toe wil gaan en vir haar sê dat sy  ’n goeie werk gedoen het, want vandag is ek ’n finale jaar-student, oppad om ook ’n graad een-juffrou te word.

Ek sal die beste juffrou wil wees waaroor enige kind droom. Ek wil kinders in hulself laat glo, sodat hulle kan weet hulle sal dit maak in die wêreld. Daar is genoeg dinge in die lewe waar ’n mens nie gaan voel of hy kan nie. In my klas gaan kinders glo dat hulle KAN. Ek wil vir kinders broodjies gaan gee wat honger is, ek wil ouers en leerders weer hoop gee, ek wil leerders motiveer vir die toekoms, leesboekies vir leerders kan gee om te lees, waar hulle 6 maande terug nie eers ’n klankie geken het nie. Daar waar mense neerkyk op onderwys, wil ek wys hoe dit hoop kan bring. Ek sal met my eerste salaris vir my ’n mooi bos blomme koop, sodat ek mense in my huis kan verwelkom en laat tuis voel. Ek sal so graag wil trou met mooi tulpe en baie gaste, sodat ek ook kan sê my grootste droom het waar geword. Ek wil die beste ma wees, maar egter ’n nog beter vrou, soos Hooglied in die Bybel haar beskryf. Ek wil weet ek maak my ouers trots, op dit wat ek bereik, maar meer op die mens wat ek is en nog wil word. Ek wil hard werk en my geldjies spaar sodat ek na ’n paar lande kan gaan end it kan ervaar, sodat ek meer kan weet, kan leer, ’n beter weergawe van myself kan wees.

 

Ek lees gereeld die stukkie wat sê: “What if you wake up some day, and you’re 65, or 75, and you never got your memoir or novel written; or you didn’t go swimming in warm pools and oceans all those years because your thighs were jiggly and you had a nice big comfortable tummy; or you were just so strung out on perfectionism and people-pleasing that you forgot to have a big juicy creative life, of imagination and radical silliness and staring off into space like when you were a kid? It’s going to break your heart. Don’t let this happen. Pick a new direction, one you wouldn’t mind ending up at, and aim for that. Shoot the moon.” Mag ons nooit so opgeskeep sit met die wêreld se idee perfeksie dat ons nooit die “guts” het om in die see te gaan swem met ’n swembroek nie. Of dat ons opgee op ons drome net omdat ons “Instagram likes” nie ook 500k is soos die meeste sogenaamde ‘suksesvolle’ mense nie. Hou op uitstel.  Brand daardie kerse, gebruik die goeie linne en drink daardie duur wyn. Moenie aanhou wag vir ‘n spesiale geleentheid nie. Moenie wag om eendag jou ideale lewe te begin leef nie. Die lewe is nou.

Ek sal my lewe lank wil oefen en ’n voorbeeld wil wees vir ander om goed na hulself om te sien. Ek sal aan wedrenne wil deelneem en in die natuur gaan draf en fiks wees totdat ek nie meer kan oefen nie. Ek wens ek kon selfs vroeër in my lewe die belangrikheid van goeie gesondheid besef. En hoe belangrik dit is om vir jouself lief te wees. Die lewe is ondraaglik as jy nie vir jouself lief is nie. As daar een ding is wat ek vir jongmeisies (en seuns) kan leer, is dit om vir hulself lief te wees.  Dit is ’n proses en dit kom nie noodwendig natuurlik nie. Die mens is van nature krities. Wees sagter op jouself: op daardie oomblik het jy heel moontlik die beste besluit gemaak wat jy toe gedink het reg is. Moenie jouself vir ewig blameer nie. Die Here het ’n plan met jou, al voel jy nie goed genoeg nie. As jy jouself met die wêreld se standaarde vergelyk, sal jy nooit goed genoeg wees nie. Vind jou waarde in Christus.

Ek wil my eie organisasie begin waar ek uitreik na armes. Nie net finansiële armes nie, maar emosionele armes. Ek wil uitreik oor ek so graag wil help. Ek weet finansieël sal die organisasie kan help, maar elke mens kan tog ook daardeur help deur liefde te gee. Ek wil uitreik na ander, mense bewus maak. Elke aand loop ek oor van dankbaarheid dat ek in ’n warm bad kan bad, in ’n warm bed kan slaap. Op ’n koue wintersaand, sal ek vir iemand wat nog nooit in ’n warm bad gebad het nie, in ’n warm bad laat bad. As ek net iets so klein kan regkry, sal ek tevrede wees. Ek wil mense vertel van God, stories vertel sodat hulle ook kan weet daar is hoop. Ek wil blomme in mense se tuin help plant, mense wat nog nooit ’n tuintjie kon hê nie. Daar waar ek kan, wil ek ’n verskil maak. Ek wou nog altyd help. Ek glo dat God my alles gee, sodat ek weer aan mense kan gee wat niks het nie.  Ek glo liefde kan ons wêreld heel maak. Dalk kom ek nooit by al my drome uit nie; God se planne oortref in elk geval alles waaroor mens ooit kon droom. Wat ek wel weet, is dat ek so graag eendag op my sterfbed sal wil lê en weet, “I lived my life”.

TQonYDd

One thought on “Eendag

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: