‘n Gedig wat ek geskryf het vir ‘n lang verlore liefde.
||
‘n nuwe dag
Ek sal jou oor en oor kies in my verlede
En kanse vat op jou en my
Want jare se miljoene gebede
Het my na jou gelei
Wees geduldig in die liefde
Maak Korintiërs sy merk
Elke aand op my knieë
En eendag net, ’n wonderwerk
Die een wat kom, so vinnig, stil
Om jare se gewonder te laat kwyn
Jou gees se leemtes dadelik kom vul
En lig in geroeste hartskamers laat skyn
Die een wat jou wêreld so helder kom inkleur
Jou wildste drome vlerke laat kry
Met ’n onbekende kleur en geur
Kom, vlieg saam met my!
Die een wat is, jou grootste wens
Beter as wat jy ooit kon kry
En jou laat verander in ’n beter mens,
’n Beter weergawe as die vorige jy
Die een wat Somer in jou siel kom wees
En jou laat blom in die warm son se kring
Wat verlepping sal voorkom in jou gees
En oor en oor vir jou die sonskyn bring
Die een wat met jou in die reën sal dans
En met ander oë die wêreld laat sien
Dankie, Heer, vir nog ’n kans
Op die liefde en op lewe, so onverdien’
Vir iemand wat met die wêreld se lewenslus
My die onbaatsugtige liefde laat ken
Wat my laat besef dat bo alles
Is dit die liefde wat wen
Ek sal jou oor en oor kies, óók in my toekoms
En elke oggend saam met jou wag
vir die son se opkoms
’n nuwe dag
Leave a Reply