Tweeling

Ek het hierdie blog geskryf aan die begin van 2017, toe ek begin werk het. Wat ‘n voorreg om sibbe te hê!

||

“Hoe voel dit om ‘n tweeling te wees?”

Dit is die vraag wat ons die meeste kry. Maar vir ons was dit ál wat ons nog ons hele lewe lank ken. Hoe om ‘n boetie en sussie te wees. ‘n Tweeling te wees: “Dis maar soos om ‘n boetie en ‘n sussie te wees, ons is dalk net bietjie nader aan mekaar”, is ons antwoord gewoonlik.

Al is ons persoonlikhede absolute teenoorgesteldes, die een ‘n introvert en die ander een weer ‘n ekstrovert, het ons die lewenspad van dag een af saamgestap. Elke mylpaal kon ons saam ervaar. Ons het saam begin loop, saam begin praat, saam begin tel, saam leer fietsry op die plaas, saam begin tennis speel, saam in elke klaskamer gesit.

Ek sou saam met hom ‘touchies’ speel en hy saam met my ‘huis-huis’. Daarna sou ons verdiepings bou in ons boomhuis, hy het gebou en ek sou die kombuis versier. Ons het voorskool op stapelbedjies geslaap, hy bo en ek onder. In die aande het Mamma of Pappa altyd vir ons saam ‘n Bybelstorie gelees en ons kon beurte maak om te bid. Net voor die eerste dag van Graad 1, het hulle vir ons albei wekkers gekoop wat soggens 6-uur sou afgaan voor skool.

Ons was saam-saam in Graad 8 en saam Hoërskool Stellenbosch se koshuis toe, en moes elke nuwe hoofstuk saam begin en saam afsluit. In matriek was ons onderhoofseun en -dogter. Ons kon saam projekte reël en op kampe gaan. Op universiteit het ons weer saam die huis verlaat, en ons vier jaar as studente saam ervaar. Dit was nog nooit nodig om vir mekaar te vertel wanneer ons huistoe verlang nie, soms kan ons net in stilte in die PUK se SS sit, want ons albei sou net wéét. Ons sou elke jaar iets anders doen om ons verjaarsdag te vier, van een jaar af, kan ek onthou. Ons albei het een jaar ‘n seerower-partytjie gehou, en die ander jaar ‘n 7de Laan-partytjie. Hy sou die ‘Deli’ hê en ek vir ‘Oppikoffie’. Só het ons altyd geweet dat ons skouer-teen-skouer langs mekaar kan stap, waar ook al ons onsself in die wêreld bevind.

Maar die jaar gaan ons nie saam ‘n partytjie kan hou nie. Hy het begin werk in Sandton, Johannesburg en ek in Somerset-Wes in die Kaap. Môre is die eerste keer in 23 jaar wat ons nie by mekaar gaan wees op ons verjaarsdag nie.

Maar dis nie nodig om dit vir mekaar te sê nie, want môre sal ons albei wéét.

So leer ons nog elke dag, dat ons die oomblikke wat die kosbaarste is, as vanselfsprekend aanvaar het. En dan hoop ons dat die lewe ons nog ‘n kans sal gee, en eendag weer ons paaie naby mekaar sal laat eindig. Sodat ons kinders eendag as niggies en nefies saam sal kan speel, kinderlik vry kan leef en saam verjaarsdae sal kan vier.

Soos ons ook op ‘n tyd het.

‘We may look old and wise to the outside world. But to each other, we are still in junior school.’   -Charlotte Gray

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: