Frankryk Uitreik

Ek het middel 2014 as ‘n tweedejaar op universiteit, hierdie verslag geskryf vir ‘n kerkbode/ tydskrif in Frankryk. Dit was nadat ek vir 2 weke in Frankryk op ‘n uitreik was.

||

PUK-STUDENTE REIK UIT IN FRANKRYK

Op 9 Julie 2014 om 05:30 die oggend op O.R.Tambo lughawe was ons 10 dames van PUK-Kandelaar Kerk in bloedrooi tops geklee, gereed om Parys toe te vlieg vir ons uitreik. Met Lukas 10 in ons gedagtes en baie opgewondenheid pak ons toe ons twee weke lange toer in Frankryk aan. Vol moed en energie oor al die plekke wat ons gaan sien, mense wat ons gaan leer ken en harte wat ons gaan aanraak. Min het ons geweet wát God alles vir die twee weke vir ons beplan; om te leer, om te sien, te hoor en te beleef.

Met ons aankoms in Parys was ál ons verwagtinge oortref deur die pragtige stad van liefde met reënweer wat alles soos ‘n fantasiewêreld laat voel. Ons het vir Oom Johan en sy vrou, Tannie Rita, ontmoet wat die hoofleiers was van die uitreik, asook lede is van die organisasie, CEF (Child Evangelism Fellowship), saam met wie ons gewerk het. Hulle het ons baie tuis laat voel in hul Franse gemeenskap en kultuur. Hulle is Suid-Afrikaners wat al meer as 30 jaar in Frankryk woon en kon sulke wonderlike getuienisse lewer wat ‘n blywende indruk en verskil in elkeen van ons se lewens gemaak het. ‘n Chinees, Samuel Thai, wat ook in Parys woon, en ‘n Ier wat in in Ierland woon, Oom Henry, het by ons groep aangesluit, tesame met Sanré wat die leier en dominee vir ons was. Sáám het ons ‘n fantastiese tyd beleef.

Ons het elke dag in groepe opgedeel waar elke groep Christelike Bybelboekies op verskillende areas en dorpe in die platteland uitgedeel het. Ons het van dorp tot dorp gery en van huis tot huis gestap. Elke liewe huis in Frankryk het ‘n posbus en dis waar ons die Christelike boekies kon ingooi. Ons het spesifiek na onbereikte dorpe en gebiede gegaan om die Goeie Boodskap aan hulle te bring. Ons het tussen 8 000 en 10 000 boekies in 5 dae versprei. Die bevolking in Frankryk is sowat  66 miljoen mense, waarvan net 1% Christene is. Ons kon dus elke dag met nuwe uitsigte en hoop opstaan , met die wete dat mistens EEN Franse gesin vandag na ‘n boekie sal kyk en dat dit êrens in hul lewe op die regte tyd ‘n invloed sal hê tot hul geestelike redding.

Wanneer die pad lank geword het en die dag om 17:00 sy tol geëis het, moes ons onsself gedurig herinner om moed te hou (in reënweer, 45 grade celcius-middae en bedompige weer) en om elke huis in die afgemerkte area vir daardie dag te bereik. Want wat is ’n ekstra kwartier wat jy van jou dag opoffer om nog ‘n huis se posbus te bereik teenoor één mens wie se siel wat vir ewig deur God gered kan word?

Ons het wonderlike getuienisse gehoor van Franse gesinne wat deur een Christen se boodskap gered is. Preke in kerke wat ons verstom het oor die hoeveelheid mense in ons wêreld wat moet sterf vir hul geloof en steeds vuurwarm bly vir God en nóóit lou word in hul geloof nie. Ons het by albei die kerke wat ons Sondae bygewoon het, in Afrikaans en Engels Christelike liedere vir die gemeente gesing, waar die gemeentes saam hande geklap en selfs in hul eie taal die liedjies saam met ons gesing het. Hoe wonderlik was dit nie dat EEN kerk in Chinees, Frans, Engels, Iers en Afrikaans dieselfde God kon loof en prys nie!

Die geboue en landskap in Frankryk is nimmereindigend mooi en sprokie-agtig. Die argitektuur slaan jou asem weg en foto’s is daar miljoene van geneem! Die verskillende kulture was interessant om te beleef, tesame met die onvoorspelbare Franse weer en lang dae wat eers om elfuur die aand eindig. Elke oggend en aand se Bybelstudie was verrykend met Oom Henry,  die Ier, se lewensgetuienisse en Sanré wat elke dag ‘n nuwe boodskap van hoop aan ons voorgehou het. Die uitreik het ons verseker ook baie gelei tot selfontdekking. Om gereeld stil te word en te dink: Loop ek God se pad vir my lewe? Is ek gelukkig? Wat maak my werlklik opgewonde? Bewaarheid ek my drome saam met God?

Ons het as groep baie goeie vriendskappe gesmee en dae beleef waar ons letterlik heeldag deur gelag het en waar ons al ons vreugde elke oomblik van God af kon kry. Ons het ook geleer dat ‘n glimlag ‘n universele taal is wat almal verstaan. En dat dit ‘n vreemdeling se dag kan maak. Ons het een dag vir ‘n afgetrede egpaar gaan kuier wat in ‘n gemeenskap bly waar hulle ál Christene is en waar niemand in die gemeenskap, as gevolg van hul Christenskap, hulle wil ken of met hulle wil praat nie. Hulle volhard voluit hul geloof ten spyte van moeilike omstandighede.  (Johannes 16: 33- “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”)

Soos ek terugdink aan die uitreik kan ek nogsteeds nie glo dat ek in Frankryk was en dat ek die wonderlike geloofsreis met dierbare vriendinne kon deel nie. Die Champs Élysées, Arc de Triomphe, Notre Dame-katedraal en Eiffeltoring maak ’n blywende indruk op jou. Ek voel so bevoorreg om dit te kon beleef. Ek het ook baie geleer. Oor myself, oor ander kulture, oor die lewe, maar veral oor God. Mag ons elkeen onthou dat ons elke dag op ‘n uitreik is vir God. Nét daar waar ons werk of speel of woon. Mag ons elke dag daarna strewe om nuwe plekke te ontdek, in onsself te groei en nuwe mense te ontmoet. Mag Hy jou wys wat die doel en roeping vir jou lewe is en mag jy elke dag in elke dorp en land waar jy jouself bevind, in Sy weë wandel.

Wonderlike herhinneringe sal ons altyd bybly oor ons uitreik na Frankryk. Lank nadat ons weer op Suid-Afrikaanse bodem geland het, sal die herinneringe aan hierdie twaalf dae nog ons gedagtes vol lê. Ons sal met warm harte terugdink aan die lekker kos, nuwe vriende en ’n ongelooflike wêreld wat ons in Frankryk ervaar het. En aangesien Frankryk so bekend is vir sy wonderlike champange, raai ek jou met graagte aan om ‘n glasie te klink indien jy jouself ooit in die stad van liefde sou bevind. Want in Parys hét jy rede om fees te vier. En hoeveel meer rede het ons as Christene nie elke dag om die lewe in oorgawe te vier nie?

 

 

4 thoughts on “Frankryk Uitreik

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: