Die wêreld daar buite

Met die toestemming van my sussie, kon ek die volgende blog post oor die bietjie wat ek al kon leer oor die lewe, die liefde en God se onverdiende genade.
||

Liefste Annie sus,

Ek kan nie glo jy is al 18 nie! Jy sal maar altyd my kleinsussie bly met die mooi, blonde hare wat altyd in jou gesiggie gehang het. Jy besef dit dalk nie nou al nie, maar hierdie is ‘n groot dag in jou lewe. In wêreldse terme noem hulle dit ‘mondigwording’ of ‘welcome to the adult life’. Maar An, in Geestelike terme beteken dit soveel meer. Jy betree ‘n nuwe hoofstuk waar jy op jou eie die buitewêreld betree.
An, jy gaan sien dat die pad meer moeilik as maklik gaan wees. Dat daar meer challenges as smooth sailings gaan wees. Dat die wêreld baie meer verlore is as wat ons dink. Dat God werklik die Redder is, ook in jou lewe. En dat Hy jou meer gaan vorm as ooit van te vore. Dit gaan ook die beste tyd van jou lewe wees. Jy gaan kies hoe om jou eie opinies te vorm oor nuwe mense en nuwe dinge. Jy gaan jou eie manier van lewe vir jouself uitlê om te volg. Jy gaan moontlik ervaar dat tyd regtig verby vlieg (veral op universiteit) en dat ‘n mens nie moet wag sodat ‘eendag’ aanbreek om die ideale lewe te leef nie. Jy gaan mense ontmoet wat jou lewenslange vriendinne gaan word en vir wie jy eendag na jou troue toe sal nooi.
Jy gaan ook leer dat die punte op skool of komitees op universiteit geen ewigheidswaarde dra nie. Jy gaan sien dat jy nie op mense kan staat maak nie, maar net op God. En ook dat dit jou niks gaan baat om jou lewe te vêr vooruit te beplan nie; dat vandag regtig al is wat saak maak. Jy gaan leer hoe om stil te word in die middel van chaos, hoe om God te gaan soek in die natuur, in die stilte. En jy gaan besef dat liefde regtig al is wat saak maak, te midde van ‘n verlore en korrupte wêreld. Jy gaan leer dat daar ‘n handjie vol mense daar buite is wat soos jy is. Jy sal hulle nog vind. Jy gaan ook besef dat ons regtig die geseëndste gesin is wat bestaan. En in jou alleen-wees gaan jy ‘n oormaat dankbaarheid beleef. Maar bo alles An, gaan jy leer oor die dinge wat werklik saak maak. Dis maar die mense wat deur God aan ons gegee is, die mense naaste aan ons.
Annie, ek weet jy weet reeds meeste van die dinge, maar ek weet ook jy’s gereed vir die nuwe en die grootste groeikurwe op jou lewenspad. Ek weet God gaan jou op wonderbaarlike maniere gebruik vir Sy Koningkryk. Teologie gaan maar net die begin daarvan wees. Jy is ‘n pragtige ‘woman of God’ en ek is so bevoorreg om jou as ‘n sussie te hê. Jy gaan die wêreld so positief beïnvloed met jou mooi hart, goeie waardes en breë glimlag. Ek wens ek kon ‘n groter deel van my lewe nader aan jou spandeer en saam net jou op universiteit wees, maar vir nou weet ek ook dat die deel is van God se goeie plan.
Weet dat God reeds die pad vir jou uitgelê het vir elke tree wat mag kom.
Deut. 31:8 – “Do not be afraid or discouraged, for the LORD will personally go ahead of you. He will be with you; he will neither fail you nor abandon you.”
Geniet 18 wees,
Liefde
E72B38ED-1182-4574-A494-E169AFADA912-20112-000005694740762B

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: